Die orkes, tans onder dirigentskap van mnr. Eddie Clayton, met ’n ledetal van 86, word jaarliks deur oudisie-aflegging demokraties saamgestel uit hoofsaaklik hoërskoolleerders uit die onderskeie streke van ons land. Dit is veral die uitmuntende standaard van die orkes wat dit gewild maak, en dit het ’n gesogte orkes vir aspirant-musici geword.
Die orkesaktiwiteite word afgesluit met ’n prestigekonsert in die ZK Matthews-saal by UNISA in Pretoria, tot groot genot van gehore wat hulle verlustig in die musiek van die ou meesters soos Beethoven, Tchaikovsky en Strauss, terwyl filmmusiek ook sy plek op die program het.
