Dit was verlede jaar 25 jaar sedert die legendariese stem van Suid-Afrika se eerste ware superster, Gé Korsten, vir altyd stil geword het, en sy lewe, loopbaan en fenomenale talent word gevier in Lefra Produksies se huldeblykproduksie, Gé Sing: Hoor My Lied! Lefra Produksies vier ook vanjaar hul dertigste jaar in die bedryf met verskeie top produksie soos Gé Sing: Hoor My Lied!
Frans Swart, regisseur van Gé Sing: Hoor My Lied sê dit is vir hom ‘n besondere groot voorreg om hulde te bring aan hierdie ikoniese sanger en kunstenaar. “As daar ooit ‘n superster in Suid-Afrika was, dan was dit Gé! Ek was bevoorreg om Gé persoonlik te kon geken het, want as jong kameraman by SAUK-TV, was ek kameraman vir ‘n paar seisoene van die gewilde TV-program, Gé Sing. Daarna het ons baie goeie vriende geword en het ek die mees ongelooflike respek vir hierdie kunstenaar ontwikkel. Hy was nie net sanger nie, maar hy was ‘n mentor vir soveel mense in die bedryf. Hy was gesinsman, adminstrateur, vriend, akteur, sanger, orator, vegter vir die opera en legende!”